Net nog 'n 'merry-go-around' bediening? |
Dis Wol-fees tyd!
Die jaarlikse Wol-fees was die geleentheid van die jaar in my tuis dorp! Honderde plaasboere en hul knap vrouens het gesorg dat geen een van die besoekers met leë hande by die hekke uitstap nie. Die seuntjies het hul pappas na die uitstallings van trekkers en stropers gesleep terwyl ma en sussie die handewerk en heerlike baksels gaan beloer het.
Maar die absolute hoogtepunt van die skou was wanneer die pretpark oopgemaak is! As kind het ek met die grootste geduld in die lang rye gewag om ook my kaartjies vir die “merry-go-around” te koop. En dan het ek en kleinboet deel geword van die gillende stemmetjies wat haasbek die vreugde van die tuimelende, skommelende en draaiende pretritte geniet het. Jaar na jaar was dit ons twee se gunsteling naweek naas krismis! Tot een dag…
Ewe vol entoesiasme stap ek en boetie (wat nou al my BROER geword het) deur die hekke en altwee van ons steek teleugesteld vas. Die pretpark se ‘pret-goeters’ lyk dan skielik so oud? Die eens aangename bekendheid van die swaaie en die perdjies, die skyfskiet en die skoppelmaaie was soek. ‘n Leë, dorstige verveeldheid oorval ons soos ons deur die bekende stalletjies stap. “Sal ons maar op die ‘merry-go-aroud’ gaan ry?” probeer ek vir boeta aanspoor… Maar hy draai vies om en sê net: “Nee wat! Al die goeters hier ken net een rigting: al-in-die-ronde - al-in-die-ronde…!
Is jy ten gunste van verandering?
Het jy as leier van jou kerk al ‘n slag terug gestaan en die bediening van jou gemeente goed ontleed? Hoe sien jou bediening daarna uit? Nog die selfde as twintig jaar gelede? Veertig jaar gelede? Ons bekommer ons oor die dalende gemeente getalle en die swak bywoning van die uitreik programme en skryf dit dan toe aan die ‘afvalligheid van die laaste dae’… maar kan dit wees dat ons bedieningsmetodes uitgedien geraak het? Pas ons aan by die tye en groei saam met die nuutste tegnologie of klou ons verbete aan uitgediende metodes vas bloot omdat ons te bang of te hardkoppig is vir verandering?
Het jy ‘n effektiewe bediening?
Hoe sien jou gemeentelede daarna uit? Is hulle sterk in die geloof? Is hulle saamgebind in God se liefde? Dra hulle mekaar se laste en is woorde van bemoediging en aanmoediging deel van die begroeting by die kerk se deur? In kort, is jou gemeentelede besig met ‘n positiewe groei na geestelike volwassenheid?
Hoe ondersteunend is die programme van jou kerk om nuwe en ‘ou’ lidmate tree vir tree te lei tot geestelike volwassenheid? Of lyk die ‘kerk-goeters’ oud en vervelig? Ek het eendag ‘n prediker hoor vra: “Het jy twintig jaar se ondervinding of net een jaar se ondervinding wat jy nou al twintig keer herhaal het?” Wat ‘n skrikwekkende idee! Is jou bediening effektief genoeg sodat jy die geestelike groei van jou lidmate in ‘n positiewe, opwaartse rigting kan sien? Of is jou bedienings-jare maar net soos die vervelige ou uitgediende pretpark…. Jaar na jaar maar dieselfde…. Al in die ronde … al in die ronde… net nog ‘n kommittee…. Net nog ‘n vergadering…
Goeie nuus!
Hier is goeie nuus vir almal wat voel hulle is gevangenisse van die eentonige skoppelmaaieritte! Verandering is nie altyd sleg nie! Kyk na hierdie interessante aanhaling van E.G. White in die boekie Evangelism:
“Whatever may have been your former practice, it is not necessary to repeat it again and again in the same way. God would have new and untried methods followed. Break in upon the people – surprise them!” -- Manuscript 121, 1897 (Evangelism, p.125)
Sjoe! So om iets nuuts te probeer ten einde die wêreld te vertel van die liefde van God en die spoedige koms van Sy Seun Jesus Christus te verkondig word dus aangemoedig!
Wat ‘n wonderlike uitdaging!
Maar twee waarskuwings:
Toe ek en my broer omdraai en wegloop was daar nog steeds ander wat die ritte baie geniet het. Moet nie diegene wat nog baat vind met die ou metodes een kant toe skuif nie. Die Here het dalk vir jou ‘n behoefte aan iets anders gegee omdat siele daar buite is wat smag na die lewende water maar wat met ‘n ander roete na die Here gelei moet word. Gaan en gaan gebruik nuwe, ongetoetste metodes – verras hulle! En tweedens: Weet en verwag dat jy gaan teëkanting kry. Daar gaan baie mense wees wat glad nie beindruk gaan wees met jou skielike ‘anders-wees’ nie. Die ou metodes werk mos! So vir wat wil jou nou staan en ‘otherwise’ wees? Onthou dat Jesus se bediening die ou-ou boodskap net op ‘n splinternuwe manier gebring het en duisende het gehoor gegee.
‘n Laaste woord van aanmoediging:
Maak seker dat jou bediening God se bediening is. Verwyder alle hoogmoed en eiewysheid. Bring baie tyd in stilte met jou Meester deur. Leer van Hom, volg Hom, laat Hy vir jou die paaie gelyk maak en laat alle sukses Sy sukses wees.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking