Woensdag 28 Oktober 2015

Balsem vir my siel

Vriendskap is voorwaar ’n geskenk van God!

Die Vriendskap Skatkis

Hierdie afgelope naweek het ons die voorreg gehad om te kuier saam met “ou” vriende. Na afloop van ’n Sabbat wat oorgeloop het van ’n vreugde wat deur woorde nie omskryf kan word nie, het my vriendinne en ek rondom die klavier bymekaargekom.... soos die ou dae....
Ons het gesing en gelag tot my vingers gepyn het van die kinderlike entoesiasme waarmee ek die klawers beetgepak het! 
Die manne het maar net kop geskud en gelag terwyl hulle desperaat probeer het om ’n gesprek te voer wat hoorbaar was bo die “vreugdevolle geraas” van hulle eggenotes.
Ek is oortuig die jong tieners het net hulle oë gerol toe hulle hoor hoe hul moeders die ou vergete liedere uit die ou sangbundels koor en ek wonder nog steeds of die bure gesit en oorweeg het of hulle by ons moet aansluit en of hulle ons moet aankla vir rusverstoring!
... maar soos my vingers oor die klawers gegly het en my stem saam die ou gunstelinge laat hoor het.... en my oë die glimlagte van my vriendinne geabsorbeer het, het ek die moegheid en stress en frustrasies van hierdie lewe tussen die melodie voel weg sypel.

Soos ons in my pragtige taal sal sê: “Dit was balsem vir my siel!”

Dankie Here vir die reuse geskenk van vriendskap! Om biddende vriende te hê wat net so verbete aan die soom van die kleed van Christus vasklou ....net soos ek... is van onskatbare waarde.


Is jy ook ’n biddende vriend of vriendin vir iemand? Is jy in die hand van God ’n balsem vir ’n ander se siel? Die Here gebruik mense om mense te heel. 
Laat ons omsien na die siele van ons mense! Vriendskap is die beginpunt...

God's rykste seën vir die week!
Roné F.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Gewilde Artikels