Dinsdag 15 September 2015

Teologiese Brassery - Godsdienstig oorvreet maar Geestelik verdroog.

Was u al ooit dors?



Ons het vir nege jaar in die Karoo gewoon… daar waar die kwik op ‘n gemiddelde somers dag tot 45 grade styg. Dis waar die teer in die pad smelt en jy sowaarlik die hitte met jou eie oe kan sien wanneer dit teen die horizon golf.

In hierdie woestyn tronk het ek ‘n hele kisvrieskas net vol bottels yswater aangehou! Die koue storte, die swembaddens en klam lappies agter in die nek was maar van geringe hulp. Daardie hitte moes jy van binne aanval – ‘n interne oorlog moes jy voer teen die bakoond wat jou verstand stukkend skroei! Die koue lafenis van die yswater het jou binneste darem vir ‘n paar sekondes gered van die hitte wat soos ‘n ongenaakbare virus jou vlees bekruip en soos ‘n parasite aan jou lyf kom vassuig het. Miskien het ek dalk net te veel isolasie! Want as die hitte eers in gekruip het kon my lyf dit nie weer uitkry nie. So het ek vir nege jaar die yswater oorlog gevoer!

Dit was in hierdie woestyn dorheid dat ek besef het wat dit beteken om dors te wees…

Selfs deur die nagte sou ek met my gevriesde waterbottel soos ‘n wapen langs my bed gaan slaap. Net om elke more wakker te word met ‘n verblinde hoofpyn wat met komplimente  van die versengende hitte deur die nag aan jou geskenk is.

Ons was al vir jare weg uit die Karoo. Die teer het nie gesmelt daar waar ek my toe bevind het nie. Maar die ongelooflike dors het my nie verlaat nie. Selfs die yswater in my bottel wou nie eens meer die dors breek nie. 

Ken u daar die dors? Dit is ‘n dors wat somtyds dreig om jou keel toe te druk … jou hart te verniel. Dit bring gewoonlik ‘n stortvloed van emosies mee. Daar is tye wat hierdie dors ‘n verlange bring na liefde en aanvaarding… somtyds bring dit frustrasie en woede… somtyds bring dit vrees.

Ons dors na antwoorde op ons vrae en probleme. En ons dors na riglyne weens ons gebrekkige wysheid. Ons dors na heling vir ons gewonde siele en ons dors na aanvaarding ten spyte van ons geestelike tekortkominge. Ons gryp ons Bybels en ons drink en ons drink … die een teksvers na die ander. Ons vat mondevol slukke – hoofstuk na hoofstuk slurp ons weg. Ons duik kop eerste in komplekse Bybelstudies in. Angsbevange pogings om die verterende dors in ons siele te les. Dit is ‘n donker dors wat slegs daardie stil, privaat plekkie in ons binneste ken. En ons skrik wanneer ons besef dat nog nooit was ons tussen ‘n magdom gelowiges so geestelik  vereensaam nie.

Ek was so dors dat ek met my desperate soeke na innerlike vrede my oorgegee het aan teologiese brassery! Ek was godsienstig ooreet! Ek was opgeblaas van al die informasie en tog het my siel het van dors verdroog. In my fatale pogings om God te vind in die oseaan van geestelike informasie het ek Hom verloor deur veswelg te raak deur die eindelose branders van komplekse studies. 

Wat ‘n briljante taktiek van die Duiwel! Hy het mense van God probeer vervreem deur duisende Bybels te verbrand! Maar toe dit nie die gewensde gevolge het nie, het hy dit reggekry om mense van God te vervreem deur hulle in die Bybel te laat verdwaal. Die eenvoud van die verlossingsplan is skielik verswelg deur ‘n teologiese ontploffing van dramatiese en skynbaar belangrike vraagstukke. Filosofering oor elke gebod; ‘n disektering van elke spreuk. Boekrakke vol slim mense se kommentare oor die Woord van God; DVD spelers volgeprop met stemme wat nog weergawes bring. En ons eet en ons eet… nog ‘n boek; nog ‘n DVD. Nog ‘n kalklig spreker met sy eie vernuwe en oortuigende weergawes van alles behalwe die geliefde ou, ou verhaal.

En so vervreet God se kinders hulle aan skopgrawe vol mense stemme ... maar tyd vir stilte by die Meester se voete is daar nie. Teologiese brassery bring geen geestelike volwasenheid nie. Ure se DVD’s en die aanhang  van die kollig predikant bring nie ‘n persoonlike verhouding met Jesus nie. Dit bring ‘n verhouding met jou sikamer bank … en ‘n verwronge vriendskap met ‘n mens-god. Die mens-god wie se DVD jy kan kies as jou gunsteling om net daarna luister. Die mens-god wie se aanhangers meer oor hom praat as oor Jesus…

Ek het einde ten laaste total en al moed op gegee. Ek het geestelik gesterf. Verdor in die resultate van godsdiens propvol pretensie maar sonder ‘n Herder.  

HERE! EK IS SO DORS… vir U… waar is U? Ek swem in al die informasie! Gallonne vol studies en boeke en DVD’s. Maar ek bly dors Here! Hoe smag ek om net weer my God tussen die heilige bladsye te vind…

Johannes 4:13-14:

Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, Sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee,sal in Hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.”

Jesus die Redder van die drenkelinge. Net soos Petrus wat oorweldig was deur die golwe het Jesus my hand gegryp en my geruk uit die storm see van ‘n informasie sikloon. Hy het my veilig neergesit op die Rots der Eeue en vir my gese: “My kind, jy het nie nodig gehad om so hard na My te soek nie. Ek was nog altyd hier by jou. Ek het jou nooit verlaat nie. Soos Petrus het jy My probeer soek tussen die golwe waar jy slegs nodig gehad het om op te kyk en te sien dat My hand nou jou toe uitgereik was.”

My vriend en vriendin in Christus, omstandighede los ons verdroog en dors na nuwe lewe. En jy mag dalk besig wees om te soek, soos ek, tussen golwe van vrees, frustrasie of selfs bitterheid. Dalk duik jy ook in oseane van informasie in die fatale hoop dat emmers vol komplekse studies en tekse en hoofstukke vir jou hoop sal bring vir more. Raak stil voor God. Gaan in jou binne kamer in. Sluit jou deur. Sit die DVD’s af en bêre al die boeke. Maak God se Woord oop en laat Hom ‘n slag toe om met jou hart te praat. Vra vir die teenwoordigheid van die Trooster en lees net! Elkeen wat Hom soek sal Hom vind.

Ek is ook nog in daardie oseaan. Ek is ook nog steeds dors. Maar ek het besef dat die water wat werkilik my dors kan les kom van die beloftes van God. En soos ‘n fontein sal dit van binne af opspring en soos dit genesing bring vir my verdorde siel sal die nuwe lewe in my ook ander na die ware fontein trek! So ek fokus nou op Christus en ek bring baie tyd in stilte met Hom deur. Hy is stadig maar seker besig om my dors te les. Druppel vir druppel voed Hy my, versterk Hy my met die koel, kosbare, lewende water… nooit meer as wat my stukkende, gewonde siel kan absorbeer nie.

En vir die eerste keer is ek kalm, is ek rustig…. Want soos my siel smaaklik drink van die lewende water wat kom van die lewende God verstaan ek ook Sy roeping beter. “Gaan na elke stam, taal volk en nasie…” Almal is dors! Waarmee vul jy hulle?

"En toe Hy die skare sien het Hy innig jammer gevoel vir hulle, ondat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie..." Matt 9:36

Almal is dors! Waarmee vul jy hulle?


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Gewilde Artikels