Vrydag 17 Julie 2015

Kan jy die Satan sien glimlag?


Die Bybel. Die boek wat dien as 'n gids tot redding en ook 'n onderwysing in etiek. Maar ook die boek wat die skuld kry vir verdeelde families, moordadige fanatici en wat selfs genoem word “die bron van siek mense se drome”. Sommige respekteer hierdie boek. Sommige het gesterf vir hierdie boek. Sommige blameer al hulle probleme op hierdie boek. En met al dit gesê - hierdie polemiek alleen maak dit 'n boek wat die moeite werd is om bestudeer te word.

Ek persoonlik sien die Bybel as 'n fontein van Goddelike wysheid. Dit is die onmiskenbare Woord van God. Is dit geskryf deur feilbare mense? Beslis! Dit is die belangrikste faktor van die aard van die Bybel. Dat God feilbare mense met verskillende agtergronde en persoonlikhede gebruik het om aan die wêreld die lig met 'n boodskap van liefde van Hom af te bring. Daarom moet ons die uitdagings  oorweeg en aanvaar dat die studie van die Bybel soms verklaar word deur die oë van die leser. Soos die klassieke scenario van 'n ongeluk wat plaasvind en verskeie getuies daar is wat die geleentheid kry om eerste klas dit te sien gebeur – maar uit verskillende hoeke. Slegs een ongeluk het plaasgevind het - maar as jy agt getuies het sal jy agt verskillende weergawes ontvang van wat gebeur het!

So sal dit ook wees met die studie van die Bybel. Agt verskillende mense sal dieselfde hoofstuk van die Bybel lees en jy sal uiteindelik agt verskillende interpretasies aanhoor. Die bydraende faktore is die kulturele verskille, die agtergrond verskille, die godsdienstige verskille, die behoefte op daardie en stadium en selfs die vlak van arrogansie van die leser – om maar net ‘n paar te noem.

In 2011 het ek 'n paar modules in Godsdienswetenskap gedoen en die voorreg gehad om te raak aan die godsdienstige spektrum en die verskille en soms subtiele ooreenkomste van ons geloof. Maar ingesluit was 'n module oor sektes en kultusse waar die verskriklike gevolge van wanvertolkings van die Bybel skokkend duidelik word. Tog, binne fanatisme is daar nie altyd net siek wanaangepaste mense nie, maar meeste van die tyd 'n baie opregte hart van ‘n soekende siel.

Die betekenis van die Bybel sal verskil soos individue verskillende behoeftes het. Die godsdienstige belang en kulturele invloed sal ook die waarde bepaal wat op die Skrif geplaas word. Geskiedkundiges sal 'n ander rede hê om hul studies te waardeer as die persoon wat sukkel om 'n rede vir hul lyding tussen die Heilige bladsye te probeer vind. Die Bybel is 'n lywige boek en tereg so! Om die antwoord te vind wat sal pas by my behoeftes en my begeertes te vevul kan 'n ernstige soektog vereis! Daarom kan ek 'n baie opregte Christen wees op soek na maniere om God beter te dien en in my soektog by 2 Timoteus 1:9 uitkom wat sê dat 'n vrou nie haar hare moet vleg nie en voor jy  weet veroordeel ek al die arme meisies met die vlegsels in hulle hare!  Dit is 'n eenvoudige voorbeeld om die verdraaide interpretasie van die Bybel te illustreer.

Die moderne Bybel leser word ook gekonfronteer met die uitdagende taak om ‘n geskikte weergawe van die Bybel te soek. Want daar is 'n hele paar mense wat ten gunste van net 'n bepaalde vertaling en is baie veroordelend teenoor diegene staan wat nie hul sentiment deel nie. Wat ek gevind het is die beperking van woordeskat wat bestaan ​​in tale. Daar is woorde in Grieks wat nie gevind word in Engels of in Afrikaans (die tale wat ek vertroud  is mee) nie. Byvoorbeeld die verskillende tipes van die liefde - Eros en agape - om maar twee te moen. In my taal is daar net een woord vir liefde. So sal die studie van die antieke tekste deur die moderne leser nie noodwendig hierdie inligting en skynbaar belangrike konsepte bevat nie. Nie elke leser van die Bybel is 'n geleerde in antieke Grieks en Hebreeus nie.

Op dieselfde wyse kan die betekenis van die teks misverstaan ​​word omdat die kulturele verskille, leefwyses en tradisies van die antieke tye nie in ag geneem word. So sal ons lees dat mans nie die klere van ‘n vrou moet dra en vrou nie die klere van ‘n man moet dra nie. Maar in die tyd toe dit geskryf is het al die mans rokke gedra! So in ons moderne tye wat sal ons dan beskou as mansklere?

Vir sommige moet die Bybel letterlik vertolk word, vir ander is dit bloot net 'n versameling van literatuur wat die kulturele gedrag van 'n antieke nasie bevat. Wat ook al die voorkeur mag wees en watter debatte dit ookal kan bring, die Bybel word op die ou end deur alle Christene beskou as 'n ernstige bydrae tot hul eie heil en 'n handboek vir 'n wêreld wat 'n dringende etiese les nodig het.

Die dag wanneer alle nasies vir God, verlossing, vergifnis, wysheid en nederigheid tussen die heilige bladsye soek, sal die dag wees wanneer versoening sal plaasvind tussen families, vriende en volke. Want dit is slegs wanneer selfsug verdwyn en God  geëer word dat ware godsdiens gebore word. Ek raak gefurstreerd met die konstante kritiek teen die Woord van God wat uit ons eie Christen geledere kom! Asof ons nie genoeg aanvalle van nie-Christene af kry nie. Christene kritieseer die verskillende weergawes van die Bybel, lys onbeperkte foute wat gevind word in hierdie weergawe of die ander. Dit is die begin van baie gevaarlike elemente in die Christendom. Nie-Christene kan net sowel ophou kritiseer want die Christene doen sommer self 'n baie goeie werk! Met elke negatiewe opmerking teen die Woord van God verkleineer ons ons geloof in die kragtige hand van God en vergruis ons die vertroue van ons eie mense. Ons moet dit dadelik stop sit. Ons moedig mense aan om te wantrou wat hulle in God se Woord lees deur hul fokus te verskuif na detail wat in my mening min of geen effek op die belofte van verlossing het nie.

Laat my toe om te verduidelik:

Is dit nie verbasend dat selfs al het Satan al hoeveel keer probeer om die Woord van God te ruineer dat die goue draad van verlossing nog nooit verlore gegaan het nie! En dit is die ewige belofte:  maak nie saak hoe baie woorde verwyder word nie - alles wat jy sal nodig hê om te verstaan ​​wat die perfekte geskenk van verlossing behels sal steeds gevind word tussen die bladsye. Moenie bekommerd wees nie my vriende en moet nie konsentreer op wat uitgelaat is uit die vertalings nie - konsentreer op dit wat nog steeds daar is! Plaas die fokus van die mense op die menigte beloftes van God wat nog in elke vertaling gevind kan word wat op die rake staan!

Ons as Christene kan nie 'n groter fout maak as om te konsentreer op die pogings van Satan en almal wat vir hom werk nie. Daar is diegene onder ons mense wat ure kan spandeer om ons te vertel van elke detail van die Satan. Hulle kan ons vertel van al sy tekens, al sy organisasies, al sy geheime en blykbaar het hulle het ook toegang tot sy joernaal aangesien hulle selfs weet wat sy modus operandi gaan wees in elkeen van sy 'geheime organisasies’. Vir ure sal ons mense die hele arbeidsmag van Satan bespreek en veral die een wat hulle voel is sy belangrikste ‘generaal’ hier op aarde is en elke Sabbat as ek in die kerk instap is dit die eerste ding wat ek moet hoor ... presies wat hierdie ‘generaal’ nou weer alles die week himself mee besig gehou het ... .Kan jy Satan sien glimlag? Baie min van ons mense praat nog oor Jesus – maar te veel Christene bespreek Sy teenstander!

Ek vind dit vreemd dat ons mense lyste van Satan se tekens, verenigings en werkers by die dosyne kan opnoem en tog ken hulle nie eens die name van die 12 dissipels nie; of die vrug van die Gees nie of kan hulle kan nie eens die Tien Gebooie uit die kop uit opsê nie. Ek vind dit vreemd dat hulle ure sal spandeer aan die samestelling van 'n volledige aanbieding oor al die foute wat binne 'n Bybel vertaling voorkom en tog kan hulle nie 'n eenvoudige Bybelstudie gee oor verlossing nie ... .Kan jy Satan sien glimlag? Hy weerhou ons van ons kommissie en word vermaak deur al die aandag wat ons aan hom gee!

Om dit nog eenvoudiger te stel. Ons mense kan jou op ‘n eersteklas toer tot op Satan se drumpel vat, maar hulle kan nie eens 'n wenk gee in watter rigting jy moet gaan om Jesus vind nie.  Kan jy Satan sien glimlag?  Alla wereld, hy moet dit seker vreeslik geniet om te sien hoe die Christene sy werk vir hom doen! 

Vriende as ons een saad van wantroue of twyfel saai het ons Satan se werk vir hom gedoen. Ek het vriende en familie wat ek wens ek so ver kon kry om ENIGE vertaling van die Bybel te lees! Maar wanneer my eie mense nog meer saad van twyfel in hul gedagtes saai oor die betroubaarheid van God se Woord maak dit ons lewens as werkers van God baie moeilik en ons pogings word onnodiglik belas. Laat ons mense nie skuldig bevind word hieraan nie.

Kom ons sit al Satan se publisiteit (wat so oorvloedig op sosiale media gevind word) agter ons en laat ons ‘n slag God se Woord opneem en Hom weer tussen die Heilige bladsye soek! Soek Hom soos nog nooit tevore! Wanneer Jesus weer op die wolke van die hemel terugkom sal Hy jou nie vra om 'n aanbieding oor die Satan te gee nie ... maar Hy sal jou wel laat rekenskap gee van almal wie se lewens jy beïnvloed het! 

Markus 9:42 " En elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is beter vir hom dat meulsteen om sy nek gehang en hy in die see gegooi word. " 
Matt 15: 9 "Maar tevergeefs vereer hulle my deur leringe te leer wat gebooie van mense is." 
Hosea 4: 6 " My volk gaan te gronde weens ‘n gebrek aan kennis van My."

My vriende in Christus, soek die Here met jou hele hart. Moenie bekommerd wees oor Satan se aanvalle nie - hulle is in elk geval nutteloos. Jy en ek soek die aangesig van die Here en ons versterk die geloof van ons broers en susters en al die pogings van Satan sal belaglik pateties vir ons word! 

Dit is tyd dat ons die tevrede glimlag van die Satan se gesig afvee deur ons kommissie te vervul soos gevind word in Matt 28: 19-20.




Rone F. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Gewilde Artikels